“Maar elke beweging is ‘n teenbeweging”
Die Mondeling Geskiedenis van Doktor Alfred Schaffer
Doktor Alfred Schaffer is ʼn Nederlandse digter wat as ʼn buitestaander na
Suid-Afrika kan kyk op ʼn objektiewe manier.[1] In
hierdie opstel sal die lewe van Alfred Schaffer beskryf word met spesifieke verwysing na sy ervaring as migrant digter in Suid-Afrika. Sy verlede sal
kronologies beskryf word, waar na daar klem gelê sal word op sy ervaring as
Nederlander in Suid-Afrika. Die onderhoud self sal ook bespreek word in terme
van die probleme wat ondervind is.
Anton Schaffer was oorspronklik van Limburg, ʼn klein dorpie aan die suide
van Nederland. Hy het die verpleegster Christina, wat van die Karibiese eilande
in die Wes-Indies afkomstig was, ontmoet by ʼn karnaval in Nederland. Die
Karibiese eilande was in daardie tyd deel van die Nederlandse koninkryk, en
omdat Christina werk gesoek het, het sy in die vroeë 1960’s Nederland toe
getrek. Anton was vyftien jaar ouer as Christina.[2] Hulle
het getrou en uit hierdie huwelik is twee kinders gebore, Alfred en Daliah. Alfred
is gebore op 16 September 1973 in Leidschendam, en sy suster ʼn paar jaar later.
Daliah is dood toe sy nog ʼn baba was. Christina het nie goed aangepas by die
kontrasterende klimaat van Nederland teenoor die Wes-Indies (waar sy
grootgeword het) nie, en het later rumatiek ontwikkel. Sy is uiteindelik
oorlede as gevolg van hierdie kondisie.[3]
Schaffer beskryf sy opvoeding as “normaal”. Hy het kleuterskool, laerskool
en hoërskool bygewoon in sy tuisdorp van Leidschendam, wat hy as ʼn “klein
plekkie” beskryf.[4]
Leidschendam, ʼn dorpie in die provinsie Suid-Holland in Nederland het sy
ontstaan gemaak as gevolg van die Vliet rivier wat mense vervoer het deur
Holland. In 1938 het herorganisering en formasie plaasgevind in Leidschendam
weens spoedige groei van industriële aktiwiteite en ook populasie groei wat
gepaard gegaan het daarmee. Leidschendam se vooruitgang het ʼn samesmelting met Den
Haag veroorsaak en word dus vandag gesien as ʼn voorstad daarvan.[5]
Schaffer het met hoërskool begin in 1985, en hier het hy die Voortgesette
Onderwys (VWO) kursus voltooi. Hierdie kursus berei leerlinge voor vir
universiteitstoelating.[6] In
Hoërskool het Schaffer begin om sokker te speel en hy het dit beskou as sy
groot droom om professionele sokkerspeler te word. Hy het die posisie van
links-buite gespeel vir die First Division Club.[7] Dit
was in hierdie tyd wat hy ook sy talent vir dromme speel ontwikkel het, en hy
het ʼn onderskeiding gekry vir musiek. Met hierdie talent het hy besluit om jazz
improvisasie te gaan studeer by die Universiteit van Leiden. Sy pa het hom
egter hierteen ontmoedig omdat dit nie ʼn gewaarborgde beroep verseker het nie.
Hy is daarna aangemoedig deur ʼn meisie om ekonomie te gaan studeer, maar hy het
hierdie module gesak.[8]
Hy het in 1992 uiteindelik besluit om Nederlands te studeer omdat sy pa vir
hom gesê het daar sal altyd werksgeleenthede wees, asook omdat Schaffer ʼn
liefde vir skryf ontwikkel het vanaf die laat 1980’s. Die eerste gedig wat hy
geskryf het, “Carnaval door Melaatse”, beskryf hy as “hond sleg”, maar dit het
hom geïnspireer om harder te werk. ʼn Verdere inspirasie was die bekende
Nederlandse biograaf Cees Fasseur. Schaffer het vir hom dertig van sy gedigte
gestuur en Fasseur het op elke een kommentaar gelewer. Vir Schaffer was dit
baie aanmoedigend. Saam met Nederlands het Schaffer ook Film en Teaterwetenskappe
en Algemene Literatuur Wetenskappe modules geneem.[9]
Na die voltooiing van sy graad het hy besluit om te reis en om die wêreld
te sien. Sy Nederlandse promotor het hom aangemoedig om na die Universiteit van
Kaapstad toe te kom omdat “dit baie lekker is” sowel as wat dit ʼn mooi omgewing
is.[10] In
1995 het hy toe homself ingeskryf om sy honneursgraad te voltooi by die
Universiteit van Kaapstad.[11] Vir
sy Honneursgraad het hy geskryf oor die verfilming van die boek Bart Nel
deur J. Van Melle. Hy beskryf sy Honneurs klasse as baie inspirerend. Dit was
net hy en ʼn medestudent Francois Smit in die hele klas. In hierdie tyd het hy
bekend geraak met die werk van Etienne le Roux, wat ʼn groot impak op sy werk
gehad het in sy latere lewe. Na die voltooiing van sy Honneursgraad het hy
meestal gewerk aan die skryf van sy tesis vir sy Meestersgraad. Sy promotor
Henning Snyman het hom aangemoedig om langer in Suid-Afrika te bly.[12] In
hierdie tyd het hy sy toekomstige vrou Karmen van Rensburg, wat saam met hom
gestudeer het, ontmoet. Dit was as gevolg van hierdie twee invloede wat Schaffer
toe in 1996 besluit het om na Suid-Afrika toe permanent te verhuis en sy
doktorsgraad by die Universiteit van Kaapstad te voltooi, wat hy in 2002 doen.[13] Sy proefskrif
het die titel De geschiedenis van een jonge god: mythe, primordialiteit en
de representatie van de archetypische adolescent en jonge man in werken uit de
moderne Afrikaanse literatuur en de wereldliteratuur.[14]
Gedurende die voltooiing van sy Doktorsgraad was hy ook aktief besig om
gedigte te skryf en het begin om gedigte gepubliseer te kry in literêre
tydskrifte in Suid-Afrika (Die Penseel en Die Vlugskrif) sowel as
in Nederland (Vrijstaat Austerlitz en Bunkerhill). Sy gedigte het
ook in 1999 verskyn in die digbundel Sprong naar de sterren, wat die
gedigte van ‘de laatste generatie dichters van de twintigste eeuw’ bevat het.
In 2000 publiseer Schaffer sy eerste digbundel Zijn opkomst in de voorstad.
Vir hierdie bundel is hy genomineer vir die C. Buddingh’-prys vir nuwe
Nederlandstalige poësie in 2001.[15] In
2001 het hy ook by die onafhanklike internet joernaal Litnet begin werk,[16] sowel
as wat hy begin skryf het oor Nederlandse poësie in Die Burger en Beeld.[17] In
2002 begin hy Moderne Nederlandse Letterkunde doseer by die Universiteit van
Kaapstad.[18]
In 2002 publiseer hy sy tweede digbundel, Dwaalgasten, waarvoor hy
genomineer is vir die VSB-Poësieprys in 2003.[19] In
2005 is hy weer genomineer vir die VSB-Poësieprys vir sy bundel Geen hand
voor ogen, wat in 2004 gepubliseer is.[20]
In 2005 trek Alfred en Karmen terug Nederland toe. Hulle bly in Nederland
tot 2011. In hierdie tyd word hy die finansiële redakteur van De Bezige Bij
uitgewery, waar hy werk tot 2010. Sy digbundel Schuim word in 2006
gepubliseer waarvoor hy die Hugues C. Pernath prys ontvang, sowel as wat dit
gekies word as een van die Poëzieclub-keuses van die jaar.[21] In
2008 publiseer De Bezige Bij sy digbundel, Kooi.[22]
Vir Kooi ontvang hy die Jan Campert prys, en die Ida Gerhardt prys,
sowel as wat hy genomineer word vir die VSB-Poësieprys.[23] In daardie
tyd sterf sy pa, en sy dogter, Maya Christina, word net daarna gebore. Die
afsterf van sy pa moedig Schaffer en sy gesin aan om terug te keer na
Suid-Afrika. Terug in Suid-Afrika vestig hulle in Seepunt, Kaapstad. In 2011
word hy ʼn dosent in die Departement Afrikaans en Nederlands by die Universiteit
van Stellenbosch, waar hy steeds hierdie pos het. Schaffer ag egter sy digkuns
as primêre beroep, en sy werk as dosent sekondêr.[24]
Schaffer beskryf die inspirasies vir sy gedigte as “unrest, anxiety,
suspicion, curiosity”.[25] Verder
sê hy ook dat die verlies van sy ma, pa en suster ʼn groot impak gehad het op
die stemtoon van sy gedigte. In die tyd van rou was Schaffer se gedigte meer
depressief en morbied van aard. Na die geboorte van sy dogter het sy werk ʼn
keerpunt bereik in dat dit meer positief van aard geword het. Hy beskryf dus
dat sy persoonlike lewe nie ʼn bewustelike impak op sy gedigte het nie, maar
eerder sy werk beïnvloed op ʼn onbewustelike manier.[26] Van
sy ander gepubliseerde werke sluit in Definities en hallucinaties (2003),
Titaantjes (2005), Dagkalender
van de poezie (redakteur) (2007), Greetings from... (sekondêre
auteur) (2009), Nu de slapende honden (vertaling) (2010), Bezette
stad (nawoord) (2010), Santenkraam (vertaling) (2012), My
raderhart laat niks ontglip (inleiding) (2013) en Mens dier ding (2014).[27]
Vir die bemarking van sy nuutste bundel Mens dier ding was Schaffer
in Januarie 2014 na Nederland toe vir drie weke. Hy beskryf die besoek as “ʼn
groot sukses”, maar ook dat hy vir Suid-Afrika baie gemis het. Hy sien
Suid-Afrika as sy tuiste omdat sy hele familie hier woon. Hy voel dat die lewe
in Nederland aanbeweeg het sonder hom, en dat sy lewe nou in Suid-Afrika lê. Hy
assosieer Nederland met sy familie wat dood is en beskryf dit as ʼn afgestorwe
plek. Hy sal egter nooit homself as ʼn Suid-Afrikaner sien nie, maar het ‘n meer
positiewe konnotasie met Suid-Afrika.[28]
Schaffer se objektiewe siening van Suid-Afrika as ʼn buitestander
Nederlander is dat daar ʼn groot kontras is tussen Suid-Afrika en Nederland. Hy beskryf
Nederland as ʼn land met baie geleenthede vir sukses, teenoor Suid-Afrika wat
grotendeels baie armoede ervaar. Suid-Afrika ervaar baie klasse ongelykheid ten
opsigte van rykdom en armoede. As ʼn Nederlander is dit frustrerend om te sien
omdat daar baie potensiaal in Suid-Afrika lê, maar vooruitgang gaan verlore as
gevolg van korrupsie en onkundigheid. Schaffer beskryf ʼn algemene Nederlandse
siening van Afrikaans as ʼn “gek taaltje”, en dat party Nederlanders neerkyk op
Suid-Afrikaners.[29]
Hieruit kan daar afgelei word dat Schaffer, sowel as Nederlanders in die
algemeen, ʼn kontrasterende verhouding met Suid-Afrika het. Hy sien Suid-Afrika
as sy tuiste en toevlug, maar hy sien ook die wreedaardigheid van Suid-Afrika.
Hierdie kontras kan raakgesien word in sy werk, byvoorbeeld in die gedig
“Wakker tot dagbreek” word daar geskryf “Maar elke beweging is ʼn teenbeweging,
vandaar die seisoene, statute, grafieke” (10-11).[30] Met
‘elke beweging is ʼn teenbeweging’ word daar gesuggereer dat vir elke positiewe
aksie is daar ʼn negatiewe reaksie. Schaffer se waarneming van Suid-Afrika as ʼn
land van hoop maar ook wreedheid word dus op ʼn onbewustelike manier in sy
gedigte gesien. Sy ervaring as Nederlandse migrant digter in Suid-Afrika word
dus beïnvloed deur die grusaamheid sowel as die mooiheid van die lewe wat hy in
sy gedigte weerspieël.
Hoewel die onderhoud met Schaffer ʼn produktiewe resultaat gelewer het in
terme van sy ervaring as migrant digter in Suid-Afrika, is daar probleme
ondervind tydens die onderhoud self. Eerstens was daar ʼn kwessie in terme van
taal. Hoewel Schaffer Afrikaans praat het hy ʼn sterk Nederlandse aksent, wat
kommunikasie vermoeilik het. Omdat Schaffer ʼn gesagsfiguur is, was dit ook
moeilik vir die onderhoudvoerders om vir hom persoonlike vrae te vra. Sekere
inligting kon nie bekom word tydens die onderhoud nie, byvoorbeeld feite, en
verdere navorsing was daarvoor benodig. As die onderhoud weer gedoen kon word,
sou feitlike vrae meer belangrik gewees het in die onderhoud self.
Uit die bogenoemde bespreking kan daar tot die afleiding gekom word dat die
onderhoud met dr Alfred Schaffer ʼn goeie uitbeelding van sy lewe tot in hede
gegee het. Daar is ook tot die realisering gekom dat Schaffer se digkuns ʼn uitbeelding
is van sy ervaring as Nederlandse digter in Suid-Afrika in dat sy gedigte
handel oor die goed en kwaad van die lewe, net soos wat hy Suid-Afrika positief
sowel as negatief ervaar.
Bibliography
Gemeente
Leidschendam-Voorburg. n.d.
http://www.leidschendam-voorburg.nl/Int/Over-Leidschendam-Voorburg-Historie/Historische-artikelen/Geschiedenis-van-Leidschendam.html
(verkry Maart 2, 2014).
Koninklijke Bibliotheek. n.d.
http://kb.nl/dichter-op-het-scherm/moderne-nederlandse-dichters/alfred-schaffer/alfred-schaffer-biografie
(verkry Februarie 24, 2014).
Literatuurplein. n.d.
http://www.literatuurplein.nl/persdetail.jsp?persId=46227&pMode=auteur&pFuzzy=0&pTekst=alfred%20schaffer
(verkry Februarie 24, 2014).
Litnet. n.d. http://www.litnet.co.za/Category/als-oor-litnet/wie-is-ons
(verkry Maart 1, 2014).
Nederlands Letterenfonds. n.d.
http://www.letterenfonds.nl/en/book/346/the-poetry-of-alfred-schaffer (verkry
Februarie 24, 2014).
Schaffer, Alfred, onderhoud
deur Annie Burger en Hannes Welthagen. (Februarie 27, 2014).
—. Kom in, dit vries daar
buite. Pretoria: Protea Boekhuis, 2013.
—. Kooi. Amsterdam: De Bezige Bij,
2008.
[2] Ibid.
[3] Ibid.
[4] Ibid.
[5] Gemeente Leidschendam-Voorburg, “Geschiedenis van Leidschendam,” verkry 2
Maart 2014, http://www.leidschendam-voorburg.nl/Int/Over-Leidschendam-Voorburg-Historie/Historische-artikelen/Geschiedenis-van-Leidschendam.html
[6] Koninklijke Bibliotheek, “Alfred Schaffer:
bibliografie,” verkry 24 Februarie 2014, http://kb.nl/dichter-op-het-scherm/moderne-nederlandse-dichters/alfred-schaffer/alfred-schaffer-biografie
[8] Ibid.
[9] Ibid.
[10] Ibid.
[11] Koninklijke Bibliotheek, “Alfred Schaffer:
bibliografie.”
[14] Koninklijke Bibliotheek, “Alfred Schaffer:
bibliografie.”
[15]Ibid.
[16] Litnet, “Wie is ons,” verkry 1 Februarie 2014, http://www.litnet.co.za/Category/als-oor-litnet/wie-is-ons
[17] Koninklijke
Bibliotheek, “Alfred Schaffer: bibliografie.”
[18] Ibid.
[19] Literatuurplein, “Alfred Schaffer,” verkry 24
Februarie 2014, http://www.literatuurplein.nl/persdetail.jsp?persId=46227&pMode=auteur&pFuzzy=0&pTekst=alfred%20schaffer
[20] Koninklijke Bibliotheek, “Alfred Schaffer:
bibliografie.”
[21] Ibid.
[22] Alfred Schaffer, Kooi. (Amsterdam: De
Bezige Bij, 2008).
[24]Alfred Schaffer in onderhoud met die auteurs.
[25]
Nederlands Letterenfonds, “The poetry of Alfred Schaffer,” verkry 24 Februarie
2014, http://www.letterenfonds.nl/en/book/346/the-poetry-of-alfred-schaffer
[27]
Literatuurplein, “Alfred Schaffer.”
[28]Alfred Schaffer in onderhoud met die auteurs.
[30] Alfred Schaffer, Kom in, dit vries daar
buite. (Pretoria: Protea Boekhuis, 2013), 99.
No comments:
Post a Comment