Wednesday, November 5, 2014


Sheila Cussons - Religie

Sheila Cussons word beskou as ʼn religieuse digter. Alhoewel haar gedigte ʼn verskeidenheid temas en motiewe bevat, word sy steeds bestempel as die eerste Afrikaanse digter wat haar kunstenaarskap koppel aan die soektog van God (Van Aardt 1990). As gevolg hiervan is mistisisme die dryfveer agter Cussons se religieuse poësie. Dit is veral opmerkend in aspekte van haar poësie soos die soektog na God, transfigurasie en ook teofanie. Die soektog na God word agterna gesit deur die veronderstelling dat God homself openbaar in die alledaagse werklikheid. Dit is veral in hierdie sienlike werklikheid waar Cussons die natuur gebruik om die bo-natuurlike uit te beeld. Transfigurasie en teofanie handel oor persoonlike gedaanteverwisseling en eenwording met God waarna die mens streef. Hierdie opstel sal handel oor die wyse waarop Cussons haar religieuse poësie hanteer. Dit sal te werke gaan deur die mistieke aspekte van Cussons se werk te bespreek deur te verwys na relevante gedigte. Die gebruik van mistisisme is ʼn belangrike eienskap in Cussons se werk, die soektog na God, transfigurasie en teofanie sal dien as sentrale redeneringspunt vir die ondersteuning van mistisisme in Cussons se poësie.
In die gedig “Tot...” kom die soektog na God baie sterk voor. Dit is hier waar die mistisisme se invloed op Cussons se poësie ervaar kan word. Die gedig handel oor God wat die dryfkrag, “gis”, is agter die spreker se gedagtes in reël een, dit is hierdie gedagtes wat dan veroorsaak dat die spreker met meer entoesiasme, “dansender” reël twee, dig en bid totdat die dig en bid een handeling word, “tot die een in die ander oorloop” reël drie (Janse van Rensburg 2012). Met die vereenselwiging van bid en dig is die suggestie dat die “dansender” verwys na ʼn religieuse dans. Hierdie religieuse dans dui dan op die “uitdrukking van godsdienstige emosies” en ook “om tot eenheid met die godheid te raak”. Die “dansender dig en bid” is wat die mistieke teofanie bewerkstellig (Janse van Rensburg 2012).
Bid is die mees religieuse handeling, dit word gesien as die direkte betreding van die teenwoordigheid van God. Die spreker/Cussons wat gesien word as die mistikus vervul nie in hierdie gedig die rol van bidder nie. Die bidder wil erkenning kry, maar die mistikus wil eerder erkenning aan God gee (Van Aardt 1990). Die teofanie van bid en dig word deur die spreker/Cussons dan beskou as ʼn mistieke handeling. Die “soeke” in reël vier word dan ’n sinoniem vir “bid”. Daar word aktief vir God gesoek deur die mistieke handelinge te gebruik, en Hy is dan “reeds gevonde” deur die handeling van “dig”. In reël ses word daar gepraat van “Godspraak in tale”. Hierdie verwys na die twee handelinge (bid en dig) wat uit “een Ondergrond” bestaan. Hierdie ondergrond word met ’n hoofletter geskryf, daarom verteenwoordig dit God. Dit wil sê dat God deur die digter praat; die openbaring van God (Janse van Rensburg 2012).
Die gedig “Glo ek...” kan bydra tot die bespreking van transfigurasie en teofanie. Hierdie gedig handel oor die gedaanteverwisseling van die self en ook die eenwording met God. Reël een “… dat dit ín in ons sit” verduidelik dat daar al reeds ’n onbewuste innerlike drang is wat ʼn eenwording of gedaanteverwisseling vereis met God. Dit word vergelyk met ʼn pêrel in reël twee, iets wat oor ʼn lang tydperk groei vanaf iets kleins. Reël drie en vier verwys na die Bybel. Die verwysings dui op wonderwerke wat volgens die spreker deur “ons” gedoen wil word. Reël ses verduidelik dat ons wil “transfigureer” om meer soos God te wees, om te kan doen wat Hy doen.
Happold (1963) verduidelik dat die ervaring van mistisisme ʼn direkte ervaring is van die teenwoordigheid van God. Hierdie mistieke ervaring word eerder gevind in die gedig “Tot...”. In die gedig “Glo ek...” word daar eerder die mistieke ervaring van kennis en verstand gevind. Happold (1963) verduidelik hierdie ervaring as ʼn inherente drang wat die mensdom het om die geheime van die heelal te begryp. Dit kan dan geredeneer word dat in die gedig “Glo ek...” wil die transfigurasie en teofanie juis plaasvind om nie nader aan God te wees nie maar om meer soos Hy te wees om die inherente drang wat in die mensdom woel te bevredig.
Die gedig “Corpus Christi” handel oor die soektog en die vind van God. Hier word redelik gebruik gemaak van natuurbeelde.
            I
            Eensaam vol poësie hoor ek die wind
            in die wilde populiere wat donker tuimel
            teen ʼn helder naglug, en druppels
            skuins reën sketter oor die ruite
Hierdie natuurbeelde in deel I verwys na die komende proses wat die spreker/Cussons sal ondergaan. Mistisisme veronderstel dat God Homself op besondere maniere aan mense sal openbaar. Die spreker maak homself/haarself oop vir hierdie openbaring deur te fokus op die natuur. Die spreker/Cussons “raak [dan] los” in reël vyf. Hierdie dui op ʼn soort sintuiglikgeoriënteerde spirituele bevryding. Volgens Janse van Rensburg (2012) is daar “in die ware mistikus ʼn uitbreiding van die normale bewussyn, ʼn loslaat van latente magte en ʼn verbreding van visie”. Hierdie bevryding veronderstel dat die mistikus die werklikheid agter die alledaagse werklikheid kan waarneem. Dit is dan wat die spreker/Cussons uitoefen deur na die natuur te kyk.
            II
            Wat ruis in die donker flikkerende bome
            in die wind, en glans in die driftige vlae
            van die reën, roer in die wortel, stoot
            in die sap? – besige Christus, Jý.
Hier in deel II is waar die spreker/Cussons vir Christus dan waarneem in die “donker flikkerende bome” reël agt. Christus word hier raakgesien in die natuur. Dit kan dus geredeneer word dat vir die spreker/Cussons is die sleutel na die vind van God deur die natuur met ʼn mistieke proses en ervaring.
In die drie gedigte wat hierbo bespreek is, kan mistisisme duidelik gevind word. Dit is duidelik dat mistieke aspekte die dryfveer is agter Cussons se religieuse poësie. Cussons se religieuse poësie word dus geskryf in ʼn mistieke dimensie. Dit handel nie oor die oppervlakkige loof en prys van God nie, maar delg dieper in die omgewings van wie God is en ook waar Hy is. Cussons se soektog vereis dikwels transfigurasie en teofanie om nader aan God te wees en die innerlike drange van die mensdom te bevredig.

Bibliografie


Cussons, S., 1978. Die swart kombuis. Kaapstad: Tafelberg.
Cussons, S., 1990. Die knetterende woord. Kaapstad: Tafelberg.
Happold, F. C., 1963. Mysticism. A study and an anthology. Middlesex: Harmondsworth.
Janse van Rensburg, C., 2012. Die mistieke dimensie en kontemplatiewe aard van die kreatiewe daad by Sheila Cussons. Litnet Akademies, 9(1), pp. 273-300.
Van Aardt, C. P., 1990. Die verwysing by Sheila Cussons. Ongepubliseerde DLitt-Proefskrif ed. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika.

Monday, November 3, 2014


Is Afrikaans die taal van die onderdrukker?


“Julle sal leer om gehoorsaam te wees,
gehoorsaam en onderdanig.
En julle sal die Taal leer gebruik,
onderdanig sal julle dit gebruik
want in ons lê die monde
met die gif in die klop en die spoel van die hart”

~ Breyten Breytenbach



Die vraag of Afrikaans die taal van die onderdrukker is, is nie ʼn maklike vraag om te beantwoord nie. Afrikaans het ʼn sekere stigma as gevolg van Suid-Afrika se geskiedenis en die aksies van “Die Volk” wat eksklusief Afrikaans was. Die ideologieë oor Afrikaans as taal van die onderdrukker duur steeds voort alhoewel Afrikaanssprekendes al vir amper twintig jaar nie meer in die magsposisie is nie. Stigmatisering vind steeds plaas al het tye verander. Die probleem met Afrikaans wat gestigmatiseer word, is dat dit plaasvind as gevolg van ʼn klein groep “Afrikaners” in die verlede en wat ook op hulle gebaseer word.


Gedurende apartheid was Afrikaans op die res van Suid-Afrika afgedwing. Andries Treurnicht, die Minister van Bantu Onderwys in 1976, het Afrikaans as ’n skool taal op swart leerlinge afgedwing. Daar was groot verwagtinge van die nie blanke populasie in Suid-Afrika om Afrikaans te praat. Die rede hiervoor was omdat dit kommunikasie en beheersing sou verseker vir die blanke mense.  Hierdie verwagtinge het proteste en onrus in Suid-Afrika veroorsaak. Dit is vererger deur die beleid van die Nasionale Party wat gelyktydig Afrikaans bevorder en ook die onreg van apartheid met Afrikaans assosieer. Mettertyd is die stigma, vroeër verbind aan Engels, vervang met “Afrikaans is die taal van die onderdrukker”.


Die term segregasie was eers gebruik vir apartheid. Dit het later verander omdat die benadeelde bevolking nie van die term gehou het nie. Dominee Strydom het toe aan die term “apartheid” gedink en dit geïmplementeer. Hierdie term wat ’n Afrikaanse woord is, het oor die wêreld versprei en dit het gemaak dat die wêreld hierdie taal verafsku en ook sy sprekers. Die konnotasie word vandag nog gemaak van taal, spreker en dade. Die probleem is dat blanke Suid-Afrikaners net ʼn klein groepie mense is wat Afrikaans praat. Daar is 6.1 miljoen mense wat Afrikaans as huistaal praat en net 2.5 miljoen van hierdie mense is blanke mense (Stats SA 2012). Die diversiteit van Afrikaanse sprekers word dikwels geïgnoreer wanneer die onderwerp bespreek word. Die Afrikaanssprekende "kleurlinge" wat ook slagoffers was van apartheid was in die meerderheid teenoor blanke Afrikaanssprekendes wat apartheid ondersteun het. Dit word ook geïgnoreer dat goedkoop swart arbeid ten volle uitgebuit was deur nywerhede en mynbou, wat oorheers was deur Engelssprekende eienaars. Laastens word daar ook nie kennis geneem van die feit dat daar nog altyd 'n klein, vokale Afrikaans sprekende opposisie teen apartheid was nie.

Daar was ʼn paar Afrikaanse skrywers en digters wat Afrikaans gebruik het teen Apartheid. Adam Small is ʼn bruin Suid-Afrikaanse skrywer wat in die Swartbewussynsbeweging betrokke was. Hy is bekend vir sy werke in Afrikaans wat gehandel het oor rassediskriminasie en hy het ook satiriese werke geskryf oor die politieke omstandighede (van Zyl 2012). Breyten Breytenbach het ook ʼn rol gespeel in anti-apartheid bewegings. Breytenbach was teen die apartheid regering en het dit in sy werk weerspieël. Ingrid Jonker was dalk een van die belangrikste anti-apartheid skrywers. Nes Breytenbach was sy gekant teen die apartheid beleid en het dit deeglik in haar werk weerspieël. Haar gedig “Die kind (wat doodgeskiet is deur soldate by Nyanga)” was een van die mees hartroerende gedigte in daardie tyd. Dit is ook die gedig wat Nelson Mandela voorgelees het, in Afrikaans, tydens sy toespraak by die opening van die eerste demokraties verkiesde parlement op 24 Mei 1994.
Daar was dus redelike opposisie teen die apartheid beleid. Opposisie vanaf blanke, bruin en swart skrywers wat Afrikaans as metode van verset gebruik het. Afrikaans was gebruik deur albei groepe, die onderdrukkers en die verlossers. Dit is dan verkeerd om Afrikaans net met die een groep te assosieer. Marcel Bas meen dat Afrikaans skade lei deur historiese gebeurtenisse en groepe wat met die taal geassosieer word. ’n Taal moet objektief bly en nie “gestraf” word as gevolg van sy sprekers se aksies nie. Bas meen ook dat Afrikaans nie benadeel moet word as gevolg van geskiedenis nie omdat die vroeëre geskiedenis van Afrikaans ’n belangrike rol speel in taal ontwikkeling aangesien Afrikaans sy oorsprong vind uit ’n Europese taal. Bas vra dan ook die vraag hoekom Afrikaans gestigmatiseer word omdat dit die taal van Afrikaners was waar Duits nie so ’n negatiewe konnotasie het nie alhoewel dit die taal van die Nazi’s was. (Bas 1999)
Daar is verskillende opinies oor die bestaan van Afrikaans. Sommiges voel dat Afrikaans gelos moet word sodat dit kan uitsterf omdat dit ʼn eienskap en metode van onderdrukking was gedurende apartheid. Ander sal weer veg vir Afrikaans se oorlewing. Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika is oor die algemeen ’n baie trotse groep mense. Afrikaans is deel van almal se identiteit en dit speel ’n groot rol in hierdie mense se lewens. Die vooruitgang van Afrikaans is vanselfsprekend en Afrikaanssprekendes werk hard om die vordering van Afrikaans te verseker. Die Afrikaanse Taalraad (ATR) het in September 2003 tot stand gekom. Dit tree in belang van Afrikaans by die regering, die burgerlike samelewing, die media en ander rolspelers op (Die Afrikaanse Taalraad 2008). Hierdie is een voorbeeld van die bemagtiging, bevordering en beskerming van Afrikaans.
Die gedig “taalstryd” van Breyten Breytenbach is geskryf in die stem van die Afrikaner wat die onderdruktes aanspreek. Die gedig weerspieël Afrikaner Nasionalisme in ʼn baie aggressiewe beeld. Hierdie gedig toon ook die verhouding tussen die ontmagtiging van die meerderheid van Suid-Afrika se bevolking en die implementering van die aanleer van Afrikaans. Die gedig is ʼn voorbeeld van die bevooroordeelde idee van Afrikaans en blanke Afrikaners wat vandag steeds ontstaan.
Die probleem is dat die negatiewe invloede van Afrikaner geskiedenis ʼn impak op blanke Afrikaanssprekendes het. Die nuwe generasie wil nie in die oë van die wêreld geassosieer word met die vorige “Afrikaner” groepe nie. In die geval verwerp hulle totaal die Afrikaanse taal en weier om dit verder te praat (Jacobs 2013). Afrikaans het dus nog ʼn lang pad om te stap voordat dit herstel sal word. Afrikaans is vir baie mense nog die herinnering aan ʼn vorige lewe wat vergeet wil word. Dit is te verstaande dat mense dit sal wil verwerp. Die vorige groep Afrikaners waarmee Afrikaans vandag nog geassosieer word, is besig om te verminder en te verdwyn. Daar sal ongelukkig altyd rassisme wees en ook daarmee rassediskriminasie, maar die nuwe generasie van Afrikaners is anders. Dit is dus nie regverdig om dieselfde etiket aan jonger generasies te plaas net op grond van die taal wat hulle praat nie. Dit is ook nie net blankes wat Afrikaanssprekendes is nie, daar is kleurlinge, swart mense en nog vele ander rasse wat Afrikaanse sprekers is. Afrikaans moet nie gestigmatiseer word as gevolg van ʼn klein persentasie van die sprekers se dade nie. Afrikaans is nie die taal van “Die Volk” nie, dit is nie die onderdrukker se taal nie. Afrikaans is ʼn Suid-Afrikaanse taal met Europese afkoms en op die ou end bly dit net ʼn taal.

Bronnelys

Bas, M. 1999. De Roepstem: Afrikaans en Nederlands wereldwijd. P.C. Paardekooper: "ANC is anti-Nederlands". Beskikbaar: E:\Afr en Ned\Sosio-linguistiek\De Roepstem - Mening van taalkundige PC Paardekooper.html [2013, Oktober 21]
Breytenbach, B. 1985. Lewendood. Kaapstad: Printpak Kaap.
Die Afrikaanse Taalraad. 2008. Die ontstaan van die ATR. [ONLINE] Available at: http://afrikaansetaalraad.co.za/wie-is-die-atr/ontstaan/. [Accessed 14 November 13].
Jacobs, J.U. 2013. Jong Suid-Afrikaners en kulturele (wan)praktyke: Verbreking van die stilte in onlangse prosa. Literator: Journal of Literary Criticism, comparative linguistics and literary studie, 34.1 (2013). Academic OneFile. Web. 15 Oct. 2013.
Stats SA. 2012. Cencus in Brief. [ONLINE] Available at: http://www.statssa.gov.za/Census2011/Products/Census_2011_Census_in_brief.pdf. [Accessed 14 November 13].
van Zyl, W. 2012. Adam Small, Kanna en 'daardie morele moment'. Tydskrif vir Letterkunde. 49(1): p40.

Translate it!