Resensering; Opinies en 'n Bespreking daarvan
Die resensering van werke soos boeke, digbundels, films,
geleenthede en soms ook resensies, is noodsaaklik vir verskeie redes.
Resensering speel ’n groot rol in die bekendstelling van werke. Dit bepaal ook
grootliks hoe mense na daardie werke gaan kyk en ook of die lesersgroep die
werke gaan aanskaf en lees of kyk. Die resensent het dus die mag om te bepaal
hoe die lesersgroep se voorafgestelde idees van die werke sal wees, wat die
eerste aankope sal fasiliteer of verhinder, daarom is dit baie belangrik wat
die resensent skryf en ook sy/haar opinie van daardie werke.
Resensente kan nie net skryf wat hulle wil nie, daar is
sekere riglyne wat gevolg moet word om te keer dat daar nie skade aan die
skrywer se naam of werke gerig word nie, en daar is ook ’n lesersgroep wat in
ag geneem moet word. Volgens ’n artikel in die BOEKEWȆRELD op 15 Februarie 1995
is daar vele klagtes oor resensering vanaf die lesersgroep. Van hierdie klagtes
vorm deel van die riglyne in resensering wat ons vandag volg.
Daar was dikwels gekla oor literêre tegniese taal. Hierdie
akademiese taal, vaktaal of “Akademiekaans”, was gereeld gebruik in resensies.
Dit is ’n probleem om hoë akademiese taal of vaktaal in resensies te gebruik
want die lesersgroep beskik nie noodwendig oor die selfde woordeskat en kennis
as die resensent nie en dit veroorsaak verbystering by die lesers. Daar word gesê
dat die resensent probeer slim klink maar daar word dan nie juis iets gesê nie,
dit veroorsaak net roesemoes. Daarom moet resensente vandag so min as moontlik vakterms
in resensies gebruik. ’n Ander probleem wat lesers vind met resensies is dat
die resensente “venyn” en “bitsig” is. Die kritiek bly nie altyd by die skrywer
se werk nie, die skrywer word partykeer direk aangevat en verkleineer. Meeste
van die tyd raak dit baie persoonlik. Dit is iets wat resensente ten alle tye
moet vermy. Resensente moet professioneel bly en die teks en skrywer formeel
aanspreek, nie in ’n disrespekvolle manier nie. Daar is ook klagtes van resensente
wat net skryf vir ander resensente, resensente wat resensies as geleenthede
gebruik vir slegsê en ook dan die onmoontlike verwagtinge vanaf die lesersgroep
waaraan resensente moet voldoen.
Elsabe du Toit meen dat uitgewers “brand om die volk aan die
lees te kry”. Wanneer daar negatiewe en literêre resensies geskryf word, skrik
dit die lesers af. Du Toit verwag dat resensente aan die lesersgroep moet
vertel hoeveel genot hy/sy van ’n sekere teks kan verwag. Daar moet dus eerder populêre
resensies geskryf word in plaas van die literêre resensies. Die skrywer, Dalene
Matthee, meen dat resensente jare se werk met een resensie kan afmaai.
Resensente moet dink wat hulle skryf en die skrywer se werk en loopbaan in ag
neem. Dr Fritz Kok noem dat die lesers vir wie daar geresenseer word, word soms
uit die oog gelaat. Dit lei na “verkeerde” resensering. Verkeerde resensering
is byvoorbeeld wanneer ’n lekkerleesboek geresenseer word volgens streng literêre
norms en daar nie veel oor die inhoud van die teks gesê word nie. Hettie
Scholtz sê dat lesers soms meer uitvind oor die resensente in resensies in
plaas van die skrywer en sy teks. Scholtz meen ook dat “lesers kies hulle boeke
wat hulle wil lees, en vir die res wil hulle ingelig word deur betroubare
resensies”. Dit is dus onplesierig wanneer lesers onbetroubare resensies moet
lees wanneer hulle ingelig wil word oor ’n sekere boek. Prof. A.P. Grové
verduidelik dat ’n resensent se werk is om die leser in te lig wat die skrywer
sê en hoe hy/sy dit sê. Grové meen ook dis onnodig om haatlike en kwetsende
kritiek te lewer, in dié gevalle is dit wanneer ons meer leer oor die resensent
as oor die skrywer.
Resensies het dus ’n baie belangrike rol in die literêre wêreld,
maar dit kan gesien word dat sonder die regte riglyne en reëls kan ’n resensie
nie veel beteken nie. Dit kan ook skrywers se loopbane vernietig en mense
negatiewe voorafgestelde idees gee oor sekere werke. Resensente het baie mag,
maar met daardie mag kom daar verantwoordelikheid. Prof. A.P. Grové meen dat
“’n Boek wat ’n resensie verdien, vra nie verguising nie, maar begrip. Daarom
dat ’n goeie resensent myns insiens eerder die flits as die sambok behoort te
hanteer”.
No comments:
Post a Comment