Vertaling en Tolking: Die Rol van Tolking binne Suid-Afrikaanse Konteks
Suid-Afrika is ’n baie diverse land. As gevolg van hierdie
diversiteit het die land elf amptelike tale. Die drie tale wat die meeste
huistaal sprekers het, is Zulu met 11 587 374 sprekers, Xhosa met 8 154 258
sprekers en Afrikaans met 6 855 082 sprekers (South-Africa.info, 2012).
Alhoewel daar elf amptelike tale is, word daar tog net een taal gebruik in die
parlement. Engels word gesien as die parlementstaal van Suid-Afrika, alhoewel
hierdie taal net sowat 4 892 623 huistaal sprekers het in die land (South-Africa.info,
2012). Dit is moeilik vir ʼn land om elf tale op gelyke vlakke te implementeer
in alle aspekte van die samelewing en daarom sal daar altyd een taal wees wat
voorkeur geniet, soos Engels in die politiek. Dit is juis hier waar die rol van
tolking inkom by so ʼn diverse land. Hierdie opstel sal die rol van tolking
binne Suid-Afrikaanse konteks bestudeer. Dit sal onderskei tussen vertaling en tolking.
Dit sal die verskillende modusse en tipes tolking uitwys en ook hoe dit in
verskillende kontekste voorkom. Laastens sal dit ook die alledaagse uitdagings
weergee waarmee die tolk gekonfronteer word.
Dit is algemeen dat daar verwarring is oor vertaling en tolking,
en dat baie mense dink dit is byna dieselfde. Albei aktiwiteite vertaal, maar
die wyses waarop dit vertaal is tog baie verskillend. Die vertaling aktiwiteit
is meestal geskrewe en is die skepping van ʼn doelteks vanaf ʼn bronteks. Dit is
belangrik dat die doelteks en bronteks ekwivalent is in inhoud, betekenis en
vorm. Dit het dus te doen met tekste. Tolking aan die ander kant het meer te
doen met die “mondelinge verskaffing in een taal van ʼn gesproke stelling in ʼn
ander taal tydens ʼn formele of informele geleentheid”. (Lesch, 2012, p.64). Net
soos vertaling moet daar ook ekwivalensie behou word tussen die “doelteks” en
“bronteks” in vorm, betekenis en inhoud.
Daar bestaan net twee modusse van tolking. Die twee maniere
van tolking is simultaan en konsekutief. Simultaantolking is wanneer die tolk
die inligting so vinnig as moontlik vanaf die bron formuleer en deurgee terwyl
die bronspreker voortdurend praat. Ander woorde wat gebruik kan word om
simultaan te verduidelik is gelyktydig of gelyklopend. Simultaantolking kan
gevind word in regstolking. ʼn Goeie voorbeeld hiervan is waar simultaantolking vir
die eerste keer gebruik was, dit was in die Nuremberg Verhore net na Wêreld
Oorlog II. “Simultaantolking word meestal met behulp van gesofistikeerde
apparatuur vanuit tolkkabines behartig” (du Plessis, 1997, p.47). Konsekutiewe
tolking is waar die toespraak in segmente verdeel is of met intervalle
plaasvind. Wanneer die bronspreker stiltes laat dan vul die konsekutiewe tolk dit
met die boodskap of ʼn gedeelte daarvan. “Daar kan onderskeid getref word tussen
korter en langer konsekutiewe tolking” (Lesch, 2012, p.65). Korter konsekutiewe
tolking behels die tolking van korter teksgedeeltes, waar langer konsekutiewe
tolking gepaardgaan met die afneem van notas en langer teksgedeeltes wat getolk
word. ʼn Goeie voorbeeld van konsekutiewe tolking kan gevind word in
konferensietolking of godsdienstige tolking.
Die tipes van tolking is die gegewe konteks waarbinne die
tolking plaasvind. Daar is verskillende geleenthede waarby tolking kan
plaasvind of van belang is. Konferensietolking vind plaas by ʼn formele geleentheid
soos by ʼn parlement of kongres. Dit kan gebruik maak van die konsekutiewe en/of
simultaantolking. Regstolking maak meestal gebruik van konsekutiewe tolking.
Hierdie tipe tolking vind plaas in howe. Gemeenskapstolking is “Konsekutiewe
tolking onder intieme omstandighede, waar slegs enkele persone teenwoordig is”.
(du Plessis, 1997, p.47). Opvoedkundige tolking is tolking kan simultaan of
konsekutief wees. Dit vind plaas by skole of universiteite en gebruik dus baie
vakterme. Besigheidstolking is “Konsekutiewe tolking vir sake- en industriële
onderhandeling” (du Plessis, 1997, p.48).
Tolke het dikwels probleme en uitdagings waarmee hulle
gekonfronteer word in die praktyk van tolking. Probleme met luister kan opduik
soos wanneer ’n spreker in ’n sterk aksent praat, te vinnig is vir die tolk, te
min of te vroeg stop vir die tolk of net glad nie die tolk in ag neem nie (Interpreting.info,
2013). Nog ’n probleem is wanneer daar onderlangs gesels word deur verskillende
sprekers. Om te onthou is nog ’n probleem wat tolke ondervind byvoorbeeld
wanneer sinne vergeet word of wanneer daar afkortings gebruik word en die
bewoording daarvoor is vergeet (Interpreting.info, 2013). Op die vlak van praat
word daar ook probleme ervaar soos wanneer die spreker die tolk onderbreuk of wanneer
die gehoor nie die tolk behoorlik kan hoor nie (Interpreting.info, 2013). ’n
Uitdaging vir ’n tolk sal wees om sekere vakterme te leer. Dit is ook vir baie
’n uitdaging om die gehoor te ken en om die regte woorde te gebruik sodat die
spesifieke groep sal kan verstaan (ProZ: The Translation Workplace, 2009).
Tolking speel ’n baie groot rol in die versekering van
doeltreffende kommunikasie in Suid-Afrika. Suid-Afrika is ’n diverse land met
’n geskiedkundige oorsaak van demografiese verskuiwings wat dus ’n groot impak
het op die verskillende groeperings van tale in sekere streke van die land.
Hierdie streek groeperings van sekere tale maak dit makliker in die sin van dat
tolkers weet watter tale om in watter streke te verwag. In die Wes-Kaap is die
mees algemene tale Afrikaans, Engels en Xhosa en in die Vrystaat is dit
hoofsaaklik Sotho en Afrikaans (South-Africa.info, 2012). Met hierdie kennis
sal die tolk weet in watter tale hy/sy sal moet spesialiseer of in watter tale
hy/sy hoofsaaklik sal werk in ’n sekere streek van die land.
Die feit dat Suid-Afrika elf amptelike tale het, is klaar ’n
indikasie dat tolking baie belangrik sal wees in vele aspekte van die
samelewing, regstolking, gemeenskapstolking, besigheidstolking, opvoedkunde
tolking. Volgens Lesch (2012) is daar in hospitale dikwels verwag dat
hospitaalpersoneel of pasiënte as tolk moes optree tussen die pasiënt en dokter.
Dit is ’n groot probleem aangesien hierdie vrywillige tolke nie opgeleide tolke
was nie en dikwels het wanvertolkinge plaasgevind (Lesch, 2012, p.70). In
hierdie voorbeeld kan daar afgelei word hoe noodsaaklik tolking is en ook wat
’n tekort daar aan tolking is in Suid-Afrika.
Die werklikheid in Suid-Afrika is dat Engels die hegemonie
neem in vele aspekte van die samelewing. Die probleem is dus dat slegs 25% van
alle Suid-Afrikaners vaardig genoeg is in Engels om ekonomies aktief te wees in
dié taal (Web en Kembu-Sure, 2000, p.7). Marné Pienaar (2006) meen dat dit
veral ontstellend is as mens in ag neem dat die oorgrootte meerderheid van alle
leerders hulle skoolonderrig in Engels ontvang. Dus blyk dit dat die elf
amptelike tale basies net ’n gawe simboliese gebaar is weens die oneffektiewe
taalfasilitering en die voorhand wat slegs een taal, Engels, kry. Tog is die
werklikheid dat 75% van die Suid-Afrikaanse bevolking nie ekonomies effektief
sal wees in die Engelse taal nie (Web en Kembu-Sure, 2000, p.7). Dit beteken
dat die implementering van moedertaalonderrig noodsaaklik is en dat implementering
heel moontlik deur tolking bereik sal word. Dit is die geval in meeste aspekte
van die samelewing. Deur tolking beskikbaar te maak in ’n aantal gevalle sal kommunikasie
meer doeltreffend gefasiliteer word in Suid-Afrika.
In die Suid-Afrikaanse Polisiediens kan die impak gesien
word wat gebrekkige Engelse taalvaardigheid op dienslewering het. Volgens ’n
studie in 2004 deur die Instituut vir Rasseaangeleenthede is daar ’n lae vlak
van Engelse taalvaardigheid onder polisiebeamptes (Vergie, 2006: bylae 2:8).
Dit is problematies aangesien die nie-amptelike amptelike taal Engels is in die
SAPD (Vergie, 2006). Verklarings wat afgelê word moet in Engels gedoen word. Omdat
verklarings nodig is vir verdere ondersoek, en dié is in Engels, is daar dus ’n
kinkel in die kabel. Tolke in hierdie gevalle kan dienslewering aansienlik
verbeter. Kommunikasie kan suksesvol plaasvind tussen polisiebeamptes en gewone
burgers wat verbetering van dienste en ook omstandighede kan verseker.
In howe kan daar wel ʼn poging van tolk implementering gesien
word. Volgens Moeketsi (1999) is daar ʼn sekere formule van keuring en
aanstelling vir tolke in die Suid-Afrikaanse howe. “Tans is die minimum
vereiste graad 12 en ʼn kennis van Engels, Afrikaans en tenminste twee
Afrika-tale uit verskillende taalfamilies” (Pienaar, 2006, p.37). Indien ʼn
persoon aan hierdie vereistes voldoen, dan moet daar ʼn reeks toetse voltooi
word voordat die kandidaat gekies word. Hierdie toetse bestaan hoofsaaklik uit
vertaling van tekste waar die persoon se taal vermoëns getoets word (Moeketsi,
1999, p.142). Die probleem is egter dat die keurings proses op geskrewe
vertaling konsentreer in plaas van die persoon se tolk vermoëns. Indien die
persoon suksesvol is en as moontlike kandidaat gekies word, dan word hulle vir
twee na drie dae onder die hof se hoofhoftolk se toesig geplaas om touwys
gemaak te word. Hierna begin die kandidaat-tolke, onder die toesig van die hoof-tolk,
in die hof te tolk. Dié opleiding duur vir sowat twee na drie weke. As die
kandidate belowend vaar dan word hulle vir ses maande aangestel om as tolk op
te tree in die laer howe (Moeketsi, 1999, p.5). Na ses maande word hierdie
tolke dan by die Justisiekollege in Pretoria as tolke opgelei. “However, for
reasons that pass all understanding, several court interpreters have worked for
up to five years and have still not been taken for training” (Moeketsi, 1999,
p.6). Regstaal stel ook sy eie eise en sonder opleiding in hierdie spesifieke
veld kan die regte domeine en registers nie korrek getolk word nie. “Taal is
ook die draer van kultuur en selfs goed opgeleide tolke en vertalers weet dat
kultuurverskille soms groot uitdagings stel” (Pienaar, 2006, p.38). Hier kan
gesien word dat daar ʼn desperate noodsaak is aan tolke in ons howe, maar die
manier van keuring, aanstelling en implementering kan bevraagteken word.
Volgens adv. Mthunzi Mhaga is daar ʼn opleidingsprogram en is 662 tolke opgelei
in 2011 en 2012 (October, 2013). In hierdie omstandighede kan daar net
gespekuleer word oor die kwaliteit van tolking in die howe.
Die feit bly steeds staan dat tolking ʼn belangrike rol het
om te vervul in Suid-Afrika. Dit kan gesien word in die poginge om die situasie
te verbeter, naamlik TISSA en CHITEP.
Die oorspronklike idee van die Telephone Interpreting
Services South-Africa (TISSA) was om ʼn telefoontolkdiens te ontwikkel wat
tolkdienste beskikbaar sou stel vir enige persoon in Suid-Afrika wat toegang
tot ʼn telefoon het (Pienaar, 2006, p.42). Die idee was dat polisiestasies en
hospitale hieruit sou voordeel trek met direkte toegang tot die tolk-sentrum.
In 2003 is die projek geloods wat tegnies suksesvol was, maar weens ʼn gebrek
aan befondsing deur die staat het dit tot stilstand gekom (Pienaar, 2006,
p.42). In Maart 2005 is die diens weer in Tshwane bekend gestel. Daar was sowat
23 tolke en ook heelwat staatsdepartemente wat gebruik gemaak het van die
dienste, insluitend die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit.
Die Nasionale Taal Projek (NLP) het in 1998 die
Gemeenskapsgesondheidstolkopleiding en -indiensnemingsprogram (CHITEP) gestig.
“Die oorkoepelende doel was om die toegang van talig-gemarginaliseerde groepe
tot gesondheidsdienste te fasiliteer” (Pienaar, 2006, p.43). Alhoewel hierdie
program hindernisse soos befondsing ervaar het, het hierdie projek relatiewe
sukses behaal en was daar besluit om die projek nasionaal te implementeer.
Ongelukkig toe die NLP ontbind, het die program ook tot ʼn skielike einde gekom
(Pienaar, 2006, p.43).
Implementering van tolking kan meer suksesvol wees in ons
land juis omdat dit ʼn behoefte is wat vervul moet word. Wanneer die regte
inisiatief geneem word kan dit ’n suksesvolle werkskeppings projek wees en ook
die vordering en vooruitgang van sekere tale, wat voorheen geen aandag geniet
het nie, verseker.
In Suid-Afrika het tolking die potensiaal om te groei juis
omdat dit ʼn belangrike rol speel in die lewens van Suid-Afrikaners. Taal vorm
deel van ʼn mens se identiteit. Ek glo dus dat Suid-Afrika sy diversiteit
ondersteun en probeer beskerm deur elf amptelike tale te erken. Met elf
verskillende tale in een land is kommunikasie tussen burgers vermoeilik.
Tolking vervul dus die rol van twee baie belangrike dinge; dit laat
Suid-Afrikaners toe om hul identiteit te behou en dit speel die rol as ʼn
nasie-bou funksie. Buiten hierdie twee belangrike rolle, implementeer dit ook
suksesvolle kommunikasie in vele aspekte van ons samelewing waar ons
diversiteit betrokke is. Tolking het ʼn rol om te speel in die Suid-Afrikaanse
Polisiediens, die howe, staatshospitale en -apteke, tersiêre
onderwysinstellings, staatsdepartemente en plaaslike regerings, provinsiale
wetgewers en maatskaplike dienslewering (Pienaar, 2006, p.44).
Bibliografie
Anon., 2012. South-Africa.info.
[Aanlyn]
Available at: http://www.southafrica.info/
[Onttrek 12 March 2014].
Available at: http://www.southafrica.info/
[Onttrek 12 March 2014].
Bossev, M., 2009. ProZ: The Translation Workplace. [Aanlyn]
Available at: http://www.proz.com/forum/interpreting/141646-challenges_related_to_the_job_of_interpreter.htm
[Onttrek 12 Maart 2014].
Available at: http://www.proz.com/forum/interpreting/141646-challenges_related_to_the_job_of_interpreter.htm
[Onttrek 12 Maart 2014].
du Plessis, L. T., 1997. Onderweg na vertaal- en tolkopleiding in
Suid-Afrika. In: D. J. van den Berg & A. G. Jenkinson, reds. Bloemfontein:
Acta Varia, pp. 47-50.
Gaspar, 2013. Interpreting.info. [Aanlyn]
Available at: http://www.interpreting.info/
[Onttrek 12 March 2014].
Available at: http://www.interpreting.info/
[Onttrek 12 March 2014].
Lesch, H. M., 2012. Gemeenskapsvertaling; die konteks van die ontvanger
as normeringsbeginsel. In: Stellenbosch: Sunmedia, pp. 64-77.
Moeketsi, R., 1999. Discourse in a Multilingual and Multicultural
courtroom: A court interpreter's guide. Pretoria: J.L. van Schaik.
October, A., 2013. 'Stryk probleme met hoftolke gou uit'. Kaapstad:
Die Burger.
Pienaar, M., 2006. Kommunikasie tussen staat en burgers: die stand van
tolkdienste. Johannesburg: -
Vergie, M. P., 2006. Taalprobleme in die opleiding van
SAPD-konstabels: beroepseise in Gauteng. Aucklandpark: Universiteit van
Johannesburg: -
Webb, V. & Kembu-Sure, 2000. African Voices; An Introduction to
the Languages and Linguistics of Africa. Cape Town: Oxford University
Press.
No comments:
Post a Comment